Die agt sye van geluk.
20th August 2008 • Related • Filed Under
Oom Flippie van die buur plaas het my “getag” om ag dinge te gee wat my gelukkig maak. Ek besef toe skielik dat dit nie so eenvoudig is vir my soos dit klink nie. Ek het nog nooit regtig in my lewe gaan stil staan en dink oor dinge wat my regtig gelukkig maak nie. Wys jou net dat mens soms dinge so as vanselfsprekend aanvaar.
Ek sal my bes probeer om ag dinge te gee wat my gelukkig maak. Hopelik maak dit sin.
- Die uitdrukkings van vreugde wat dit my ouers verskaf as ek elke slag huis toe gaan vir so paar weke. Mens besef dat hulle nie jonger word en dat hulle elke oomblik wat jy saam met hulle spandeer vreeslik waardeer.
- Die herinnering toe ek een van my lewens drome na 7 jaar kon bereik en voltooi.
- Die op helder van ‘n kind se oë omdat iemand die tyd kan afstaan om hom/haar aan te hoor en te luister na sy/haar storie.
- Die natuur omdat ek weet dat dit nie deur mense hande gemaak is nie en dat dit nooit getem sal kan word nie.
- ‘n Tyd van samesyn met vriende rondom ‘n tafel met lekker kos en wyn.
- Om in mense se vreugde te deel wanneer iets positiefs in hul lewens gebeur.
- Die vermoë om te kan gee en help en positiewe invloed in iemand se lewe te kan hê.
- Om met ‘n lekker boek stil te kan raak en saam met die karakters te lewe.
So daar het julle dit. Daar is seker baie ander as ek regtig gaan sit en dink. Dalk het oor die jare net baie tevrede geraak met die lewe.







Comment by Flippiefanus on 21 August 2008:
Great Rustig. Was toe nie so groot taak nie, was dit?
Iets wat jy noem wat ook nogal waar is, is dat dit mens baie gelukkig kan maak om te gee of iemand te help.
Comment by Rustig on 21 August 2008:
As jy maar net weet hoe ek my kop stukkend moes dink.
Comment by demoerin on 22 August 2008:
Baie nice. Moet sê nommer 5 is vir my sooo cool. Sulke werklike onskuldige vreugde!
Comment by Rustig on 22 August 2008:
Demoerin: Na ek alles neer geskryf het en so bietjie gedink het oor die punte, besef ek dat die meeste dinge wat mens regtig gelukkig maak kos niks. Vry,verniet en gratis.
Comment by Wipneus on 24 August 2008:
Rustig ek is mal oor nr 3 en 7, dit is hoekom jy een van gunstelings blogmaats is!
Jou laaste sin is so waar: “Dalk het oor die jare net baie tevrede geraak met die lewe”
Comment by Rustig on 24 August 2008:
Wip dit is moeilik soms vir mense om te verstaan wat bedoel word met vrede maak met lewe. Baie sien dit as “geen ambisie” of dat jy gefaal het. Ons almal droom oor baie geld en Lotto wen. Ek ook. Die probleem is dat ek wonder wat wil ek met al die geld maak. Is nie maklik om die idieë uit te leef nie.
Comment by Emil on 25 August 2008:
Pragtig. Mens het almal tog ‘n klomp dinge in gemeen.
Comment by Tersia on 9 September 2008:
Jou inskrywing is pragtig…. ek kon nie anders as om te onthou hoe gelukkig my pa altyd was om ons te sien nie! Ai, die lewe is soms so kort - as mens maar net geweet het!
Comment by Rustig on 9 September 2008:
Dankie Tersia. Ek gaan juis Vrydag terug na Suid Afrika vir my moeder se 70ste verjaarsdag. So bietjie van verrassing.
